Hoofartikel

Vuur en vlam

Al ooit gewonder wat gebeur as jy ’n vuurhoutjie trek? Of hoekom die vlamme van ’n braaivleisvuur rooi is, maar ’n gasplaat s’n blou?
Hoe werk ’n vuurhoutjie?

diagrammeVuurhoutjies kos net ’n paar sent, maar is ’n netjiese stukkie ingenieursvernuf!

’n Vuurhoutjie se kop bevat kaliumchloraat, swawel, fyngemaalde glas, gelatien en rooi kleurstof. Die strook op die vuurhoutjiedosie bevat sand, fyngemaalde glas en rooi fosfor. Saam veroorsaak hulle ’n chemiese reaksie.

Só werk hulle saam:

  1. Wanneer jy ’n vuurhoutjie teen die strook op ’n vuurhoutjiedosie skuur, word kinetiese energie opgewek deur die wrywing van die fyngemaalde glas. Dit word dan omgeskakel in hitte.
  2. Die hitte veroorsaak ’n chemiese reaksie in die rooi swawel in die strook – dit word omgeskakel in wit swawel wat maklik brand.
  3. Onmiddellik word dit nog warmer en die kaliumchloraat in die vuurhoutjiekop breek af om suurstof te vorm – en vuur het suurstof nodig.
  4. Die swawel in die vuurhoutjiekop begin nou brand en ’n stewige vlam vorm.

 

En wat van die gelatien in die vuurhoutjiekop? Dit hou die hele spul bymekaar en dien ook as brandstof. Die hout van die vuurhoutjie word vooraf in paraffien geweek, wat help dat die vlammetjie verby die kop brand sodat dit lank genoeg kan hou om ’n kers of ’n braaivleisvuur aan te steek.

Die rooi kleurstof is sommer net vir die mooi en om makliker te sien watter vuurhoutjies reeds uitgebrand het.

Slim, nê?

*Slimkop-feit: Vuurhoutjies is in 1826 deur John Walker ontwerp. Die eerste vuurhoutjies was glad nie veilig nie en kon aangesteek word deur dit op enige growwe oppervlak te skuur. Deesdae word die chemikalieë geskei – van dit is in die vuurhoutjie se kop en van dit in die strook op die dosie.

 

Hoe brand ’n kers?

diagramme2

Vir ontbranding is drie dinge nodig:

  • ’n Skielike verhoging in temperatuur tot verby die sogenaamde ‘brandpunt’
  • Brandstof
  • Suurstof

Wanneer jy ’n kers aan die brand steek, verskaf die vuurhoutjie die aanvanklike hitte. Die kerswas smelt en styg op teen die kerspit – dit dien as brandstof. Die warm lug styg op en vars, suurstofryke lug stroom weer van onder af in.

Siedaar, die kers brand!

Hoekom is vlamme verskillende kleure?

Daar is twee dinge wat die kleur van ’n vlam bepaal: Die soort brandstof en hoe warm die vlam is. As jy mooi na ’n kersvlam kyk, sal jy sien die boonste punt van die vlam is meer oranje. Dit is die warmer deel van die vlam, waar volledige ontbranding van die gesmelte kerswas plaasvind. Die klein roetdeeltjies reflekteer die geel/oranje spektrum van lig, wat dan sigbaar is as ’n vlam. Heel buite om is die vlam nóg warmer en dit lyk blou, maar dit is moeilik om raak te sien.

Organiese brandstof soos steenkool, hout en kerswas brand gewoonlik met ’n oranje vlam. Gasstowe brand met ’n blouer vlam.

Kyk na hierdie video om te sien hoe verskillende chemikalieë lyk as dit ontbrand:

 

Related Posts