Slimkop

Vreemde heelal

Die heelal is vol vreemde en fantastiese verskynsels. Hier is ’n paar interessante feite oor die ruimte.

Eenhoring
Die Driespletige Newel lyk soos ’n perd met ’n horing op sy voorkop! ’n Newel is ’n gaswolk in die ruimte.

unicorn

Foto: James Long & the ESA/ESO/NASA Photoshop FITS Liberator


Die magiese Mercurius
Dit lyk asof Mickey Mouse se kop op die planeet Mercurius voorkom, maar dis eintlik net drie kraters naby mekaar. Wetenskaplikes het ook ’n krater ontdek waaruit diep, straalvormige holtes loop en dit toe Die Spinnekop genoem. Later is die naam verander na Apollodorus.

mercury

Foto: NASA/Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory/Carnegie Institution of Washington

Skitterend
Hulle sê diamante is ’n vrou se beste vriend. Daarom sal vroue seker mal wees oor die planeet 55 Cancri e. Sommige wetenskaplikes dink dit bestaan meestal uit diamant. Ander navorsers sê egter daar is nie soveel koolstof soos wat ons eers gedink het nie – koolstof is nodig vir die vorming van diamante.

Het jy geweet?

  • 55 Cancri e is 40 ligjare van die aarde af.
  • Die planeet het ’n dag- en ’n nagkant. Die temperatuur aan die dagkant is 2 426⁰C!
  • 55 Cancri e is ’n super-aarde, want dis twee keer groter as die Aarde.

Gesig op Mars
Die Viking 1-ruimtesending het ’n gesig in die Cydonia-gebied op Mars afgeneem. NASA se wetenskaplikes sê dis net ’n ligtruuk. Maar party mense glo egter dis die oorblyfsels van ’n ou stad waar ruimtewesens gewoon het …

marsgesig

Gloeiende blob
Sterrekundiges het sedert die jaar 2000 kopgekrap oor die massiewe gloeiende blobs in die heelal. Waar kom hul lig vandaan? ’n Kykie in die grootste ruimte-blob het die antwoord gegee: Daar skuil twee groot sterrestelsels daarbinne. Hulle maak elkeen omtrent 100 sonne per jaar.

Het jy geweet?

  • Die blobs is later Lyman-Alpha Blobs (LABs) genoem.
  • Die LABs het ’n deursnee van 400 000 ligjare. Dit is vier keer groter as die Melkweg.

Pilare van die Skepping
Die asemrowendste foto van die heelal is in 1995 deur die Hubble-ruimteteleskoop geneem. Dit wys drie reuse-gaskolomme waaruit ultraviolet straal. Die verskynsel is soos ’n kleuterskool vir jong sterre. Dit is honderde miljoene ligjare in deursnit.

Kyk:

Die heelal se gewig
Sê nou maar ons kon ALLES in die heelal saamrol in ’n bolletjie en daardie bolletjie op ’n skaal sit. Dit sou maar net 4,9% van die heelal se gewig uitmaak.

Wat dan van die res?

  • 26,3% bestaan uit donker materie.
  • 68,3% bestaan uit donker energie – ons verstaan dit nog nie heeltemal nie, maar dit trek die heelal uitmekaar. Scary!

Gate

  • Daar is plekke in die ruimte waar alles wat naby dit kom – ook lig – ingetrek word. Niks wat oor hierdie swaartekrag se grens beweeg, kan dit ontsnap nie. Ons noem die plekke “swartgate”.
  • Die goed wat by die swartgate inkom, moet mos iewers uitkom, of hoe? Navorsers het ’n  teorie dat daar iewers in die ruimte ook witgate moet wees. Dit sal dalk reise deur tyd moontlik maak…

Deur Fanie Viljoen

Bronne
http://list25.com/25-strangest-things-found-in-outer-space/1/;https://en.wikipedia.org/wiki/Mercury_(planet);http://edition.cnn.com/2016/03/30/tech/nasa-super-earth-temperatures/;http://www.astronomy.com/news/2013/10/diamond-super-earth-may-not-be-quite-as-precious-as-once-thought;http://www.npr.org/2016/09/21/494593614/astronomers-find-clues-in-the-case-of-the-glowing-space-blobs;http://www.rsgplus.org/wetenswaardig/asemrowende-ruimte-beelde/;http://www.space.com/17191-face-on-mars.html

Related Posts