Skryf jou eie koerantberig!

koerantberig hoezit nuus skryf koerant

Moet jy 'n koerantberig skryf vir skool of wil jy eendag ’n joernalis word, groot stories uitsnuffel en jou naam in koerante sien? Hoezit! het ’n paar wenke gaan uitsnuffel om jou te help.

5 W’s en ’n H
Voordat jy jou pen optel en begin skryf, hokaai! Die 5 W’s en ’n H is ’n moet as dit by nuusberigte kom. Dit staan vir: wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe. Enige nuusstorie het die antwoorde op dié vrae nodig om volledig te wees.

Voorbeeld:
Jou skool speel die naweek teen jul aartsvyand in ’n groot rugbywedstryd. As jy daaroor skryf, moet jou storie al hierdie vrae beantwoord:

wie wat waar wanneer hoe hoekom hoezit koerantberig

Die omgekeerde piramide
’n Omgekeerde piramide, in joernalistieke terme, beteken jy vertel die belangrikste feite eerste en die minder belangrike laaste. Waarom sal ’n mens dit wil doen? Wanneer ’n nuusstorie uitgelê word, is daar net ’n spesifieke hoeveelheid spasie. As die storie te lank is, moet dit gesny word. Wanneer jy die feite wat minder belangrik is aan die einde van jou storie skryf, is dit makliker om die storie korter te maak sonder dat die belangrikste inligting verlore gaan.

Mense is belangrik
Jou storie moet altyd om mense draai. In jou sportstorie kan jy dalk fokus op die beseerde speler wat nie kan speel nie (hoe is hy beseer, wat is sy wens vir sy span?), of vir die afrigter vra hoe hy voel oor die wedstryd (is hy opgewonde, is hy op sy senuwees?). 

Jy moet ’n nuushoek hê!
Wanneer jy jou storie skryf, dink wat is interessant daaraan en gebruik dit in jou inleiding. Voorbeelde:

  • As jou skool se span die wedstryd wen, gaan hulle deur na die finaal.
  • Die sterspeler kan nie speel nie. Hy het sy duim met videospeletjies beseer.
  • Die skool se span speel in splinternuwe pienk truie.

Nog wenke:

  • Onthou om altyd objektief te wees. Jy moet die goeie én die slegte skryf. Moenie jou eie mening in die storie sit nie. Bv:
    • Nuus: Die span staan ’n goeie kans om te wen, want hulle het al hul wedstryde dié seisoen gewen, glo mnr. Jan Cloete, die afrigter.
    • Jou mening: Ek hoop julle wen, want julle is my gunsteling span en die ander span is losers!
  • Onthou om mense aan te haal. Dit wys dat jy met mense gepraat het en dat jy nie sommer net ding uit jou duim gesuig het nie. Bv:
    • Aanhaling: “Ek hou glad nie van die pienk truie nie. Dit laat ons soos ballerinas lyk en ons is rugbyspelers,” sê mnr. Gert Viljoen, skoolhoof.
    • Duimsuigery: Baie mense dink die pienk truie laat die span soos ballerinas lyk.
  • Onthou, ’n nuusstorie is nie ’n opstel nie. Moenie te veel byvoeglike naamwoorde gebruik nie. Bv:
    • Nuus: Die losskakel wat Saterdag uitdraf, is ’n goeie speler – hy het provinsiale kleure.
    • Opstel: Die losskakel wat Saterdag uitdraf, is nie net ’n goeie speler nie, maar ook aantreklik, slim en sy kuite kan ’n boeing aan die brand skop. Hy gaan al die meisies se kuiwe wegblaas!

deur Reza van Rooyen
Bron: Media College

Hoe werk verrotting en hoe keer jy dit?

Vrot kos is dalk grillerig, maar dit speel ’n belangrike rol in die natuur. Hoe werk verrotting, en hoe keer mense dit?

verrotting voedsel siklus hoezit

Hoe werk verrotting?
Verrottende organiese materiaal, soos blare en dooie diere, word afgebreek tot basiese stowwe wat weer as kos dien vir ander vorme van lewe. Hierdie is die laaste skakel van die lewenssirkel. Insekte en wurms help in hierdie afbreekproses, maar die belangrikste rolspelers is mikroskopiese organismes soos bakterieë en swamme. Hulle kom letterlik oral voor: Op jou vel en in jou derms, in die lug en in die grond. Die hele wêreld om jou wemel met onsigbare kieme. Hulle doen nie altyd kwaad nie: Die bakterieë in jou derms help byvoorbeeld met spysvertering, terwyl gis gebruik word om die voedingswaarde van kos soos kaas, bier en jogurt te verhoog.

Hoekom verrot kos wat nie gepreserveer is nie?
Vars kos kan uitdroog of verlep (soos vrugte en slaaiblare), maar kieme soos bakterieë en swamme kan ook daarop teer en dan vind verrotting plaas. Hoe weet jy wanneer kos begin verrot? Dit lyk sleg, dit ruik sleg en dit proe sleg! Kos wat verrot is oneetbaar en moet weggegooi word. Dit kan tot groot vermorsing lei en daarom is dit belangrik om dit so lank as moontlik vars te hou.

Om kos langer vars te laat bly, is daar verskillende maniere om dit te preserveer:

preserveringsmetodes verkoeling hitte sout preserveer hoezit

Wat is pasteurisasie?
Dis ’n proses waartydens ’n voedselsoort, soos melk, vir ’n kort rukkie verhit word om kieme te vernietig en daarna weer afgekoel word. Dit word gewoonlik verhit tot op ’n temperatuur waar kieme nie kan oorleef nie, maar nie tot só ’n hoë temperatuur dat voedingstowwe vernietig word nie.

appel eksperiment preserveer hoezit

Probeer dit self:
Kom ons toets verskillende metodes om kos te preserveer en kyk wat werk die beste!

Benodigdhede:

  • ’n Appel
  • ’n Mes
  • ’n Groot bord
  • ’n Pen
  • Asyn
  • Suurlemoensap
  • Drie lepels suiker opgelos in ’n kwart koppie water
  • Drie lepels sout opgelos in ’n kwart koppie water
  • Heuning

Hoe gemaak?

  1. Sny die appel in agt skyfies. Eet twee en hou ses oor vir jou eksperiment. Njam.
  2. Sit die ses skyfies op die bord en nommer hulle. Jy kan direk op jou appelskyfies skryf, of stukkies genommerde papier langs hulle sit. Moet net nie deurmekaar raak nie!
  3. Hou die eerste appelskyfie net so – dit dien as kontrole. Week nou elkeen van die ander appelskyfies vir ’n paar minute in jou vyf onderskeie preserveermiddels en rangskik hulle op die bord.
  4. Los die bord in ’n donker kas vir ’n paar dae. Gaan kyk een maal per dag na jou eksperiment en maak noukeurige aantekeninge oor wat met elke appelskyfie gebeur. Let op na uitdroging, kleurverandering, verrimpeling en tekens van verrotting soos swamme wat daarop groei.
  5. Watter preserveermiddel werk die beste?

Wat gebeur?
Appels verander gou van kleur na dit oopgesny is. Hoewel dit dan nie meer so lekker lyk nie, is dit nie ’n teken van verrotting nie. Maar soos die tyd aanbeweeg, begin die appel al hoe meer kleur verander, uitdroog en uiteindelik begin swamme en bakterieë daarop groei.

Suiker en sure kan almal as natuurlike preserveermiddels gebruik word – dit werk beter met sekere kosse as ander. Heuning het boonop natuurlike antibakteriële eienskappe.

Gesonde kos kán vrot
Deesdae word daar al hoe meer aandag gegee aan die newe-effekte van kunsmatige preserveermiddels, wat kan aanleiding gee tot allergieë en siektes. Sommige van dié produkte word vir jare nie vrot nie!

Vars kos is gesonder– ja, die soort wat maklik vrot. Kies ook eerder produkte wat met natuurlike middels gepreserveer is.

Lees gerus die etikette van die kos wat julle in die supermark koop en kyk watter preserveermiddels bygevoeg is!

deur Elizabeth Wasserman
Illustrasies: Shutterstock 

jou gids tot hoeke

Kry jou gradeboog uit, want hier is alles wat jy oor hoeke moet weet.

Hoeke is tweedimensionele vorms wat gemaak word wanneer twee of meer lyne bymekaarkom.

Dis baie belangrik dat jy hoeke as 2-D vorms kan herken en benoem. Hier is ’n verskeidenheid belangrike hoeke en hul eienskappe:

Daar kan van jou verwag word om hoeke te meet en daarvoor het jy ’n gradeboog nodig.

Hoe gemaak?

  1. Plaas die middelpunt van die gradeboog in hoek van die…uhm…hoek.

  2. Maak seker die punt wat 0° aandui is op die een lyn van die hoek.

  3. Die plek waar die hoek se ander lyn op die gradeboog val, dui die hoekgrootte aan.

Byvoorbeeld:

Hierdie hoek is dus 59°. Dit beteken dis ’n skerp hoek.

Hierdie hoek is dus 59°. Dit beteken dis ’n skerp hoek.

Deur Pieter Odendaal

Magiese magnete

Gedink towerkuns is indrukwekkend? Soms is die wetenskap nóg beter! Kyk nou maar net na magnete se onsigbare kragte.

Hoe werk ’n magneet?

  • ’n Magneet het altyd twee pole. Die pool waar die magnetiese veld die magneet verlaat, word die noordpool genoem en die teenoorgestelde punt word die suidpool genoem.
  • Die krag rondom ’n magneet word die magnetiese veld genoem. Dis baie sterk naby aan die magneet en word al hoe swakker na buite.
  • Die teenoorgestelde pole van twee magnete sal mekaar aantrek, maar dieselfde pole (byvoorbeeld twee noordpole) sal mekaar afstoot. Dit kan voorgestel word met lyne soos op die prentjie hieronder:
Magneetvelde

Slimkop-vraag: Wat gebeur as jy ’n magneet middeldeur breek?
Jy sal dan twee magnete hê: Elk met sy eie noordpool en suidpool. Dit sal altyd gebeur, maak nie saak hoeveel keer jy die magneet breek nie, want dis onmoontlik om ’n magneet te maak met net een pool.

Speel ’n bietjie

  • Neem twee staafmagnete (jy kan dit by speelgoedwinkels of hardewarewinkels koop) en plaas dit op ’n gladde oppervlak, soos ’n glasblad of ’n gladde teël. Bring die twee magnete nader aan mekaar en kyk wat gebeur. Draai een magneet dan om en bring dit weer nader aan die ander magneet. Wat gebeur nou? Leer meer daaroor in hierdie video. 
  • Sekere metale word sterk aangetrek deur magnete, maar ander metale word min beïnvloed. Hier is ’n tabel wat metale klassifiseer as magneties en nie-magneties. Gebruik dit om uit te vind van watter metale sekere voorwerpe in jul huis gemaak is, soos skêre, koeldrankblikkies, die ketel en deurhandvatsels. Kyk of jy ander metale by dié lys kan voeg!
metale magnetisme magneet hoezit

Slimkop-feit: Die aarde is ’n groot magneet

Net soos magnete, het die aarde ook ’n Noord- en ’n Suidpool. Ons kan ’n kompas gebruik om te bepaal waar noord is. ’n Kompas bestaan uit ’n magnetiese naald wat vry kan beweeg. Omdat teenoorgestelde pole van ’n magneet mekaar aantrek, sal die magnetiese naald homself draai sodat die suidpool van die naald na die Noordpool van die aarde wys. Slim, né!

Eksperiment: Bou jou eie kompas

Voorwerpe wat van ’n magnetiese materiaal soos yster gemaak is, kan gemagnetiseer word. Dit beteken dat dit vir ’n tyd lank in ’n magneet verander kan word. Ons kan hierdie beginsel gebruik om ’n eenvoudige kompas te bou.

Benodigdhede:

  • ’n Naald of speld wat van ’n magnetiese metaal gemaak is
  • ’n Lekker sterk magneet (verkieslik ’n langwerpige magneet sodat jy maklik kan onthou waar die noord- en suidpole is)
  • ’n Bakkie water
  • ’n Kurkprop

Hoe gemaak?

  1. Eers moet jy jou naald magnetiseer. Stryk die naald herhaaldelik oor die magneet, van een pool na die ander. Dit maak nie saak of dit van die suidpool na die noordpool of andersom is nie, solank jy dit die heeltyd in dieselfde rigting stryk. Jy sal dit so 50 keer moet doen. Geduld!
  2. Toets of jou naald nou gemagnetiseer is deur te kyk of dit ’n ligte ystervoorwerp, soos ’n papierkrammetjie, kan optel.
  3. Sny nou ’n skyfie van die kurkprop af, sodat dit makliker kan dryf, en druk die naald daardeur.
  4. Laat die kurkprop in die bakkie water dryf. Die naald sal draai sodat dit belyn is met die aarde se magneetveld. Jy het nou jou eie kompas gebou!

deur Elizabeth Wasserman
Foto's: Shutterstock, Wikiphoto

Woordsomme in ’n japtrap

Woordsomme skrik baie mense af, maar dis eintlik eenvoudig! Volg net dié reëls om enige woordprobleem vinnig op te los.

Wiskunde woordsomme maklik hoezit
hoezit goue reëls wiskunde woordsomme somme

Wiskundige woorde
Wiskundige bewerkings word in woorde uitgedruk in ’n woordsom. Hier is al die sinonieme:

  • Plus (+): som van, meer, vermeerder, tel op, tel bymekaar
  • Minus (-): verskil tussen, minder as, verminder, trek af
  • Deel (÷): kwosiënt, breukgedeelte, gemiddeld van
  • Vermenigvuldig (×): produk van, maal, soveel keer

Voorbeelde

  • Vraag: In 2012 het altesaam 112 atlete van Afrika na die Olimpiese Spele gegaan. Vanjaar gaan 111 atlete meer. Hoeveel Afrika-atlete sal dus vanjaar deelneem?
    (Die woord “meer” sê vir jou dat jy moet plus)
    Antwoord: 112 + 111 = 223
    Daar gaan 223 atlete uit Afrika deelneem.
  • Vraag: By Londen se Olimpiese stadion kon 3 850 minder toeskouers ingaan as by Rio s’n. As die Rio stadion 78 355 mense kan vat, hoeveel kon die Londense stadion vat?
    (Die woord “minder” beteken jy moet minus)
    Antwoord: 78 355 - 3 850 = 74 505
    Die Olimpiese stadion in London kon 74 505 mense vat.
  • Vraag: As daar ’n totaal van 20 lande met 260 Sewes-rugbyspelers aan die 2016 Spele gaan deelneem, hoeveel spelers is in elke span?
    (As jy die gemiddeld van ’n totaal moet uitwerk, moet jy deel)
    Antwoord: 260 ÷ 20 = 13
    Daar is gemiddeld 13 spelers per span.
  • Vraag: Daar sal vanjaar 54 lande aan die Olimpiese Spele deelneem. Elke land bring om en by 60 veld- en baanatlete saam. Hoeveel atlete in totaal gaan deelneem?
    (Om die totaal van ’n gemiddeld uit te werk, moet jy vermenigvuldig)
    Antwoord: 54 x 60 = 3 240 atlete
    Daar sal 3 240 atlete wees wat deelneem aan die Olimpiese Spele.

*Slimkop-wenk: Dikwels is langmaal- en deelmetodes die maklikste manier om jou maal- en deel-antwoorde te kry.

Klik hier vir die antwoorde.

deur Pieter Odendaal
Foto: Shutterstock

Isoleerders en geleiers

Hoekom kry jy makliker koud met nat klere aan? Hoekom sweet ’n mens as jy warm kry? Hoekom is ’n donsbaadjie so lekker warm? Die antwoord op al hierdie vrae lê in geleiding.

’n Bietjie fisika

Ken jy die verskillende vorms van energie? ’n Mens kry bewegings-energie (of kinetiese energie), chemiese energie (soos wat in batterye gestoor word) en hitte - ook ’n vorm van energie.

Energie kan nie geskep of vernietig word nie. Hitte verdwyn nie sommer net nie, maar word oorgedra van een ding na ’n ander. Party voorwerpe gelei hitte makliker as ander.

Dink net: Wat gebeur as jy warm water in ’n blikbeker gooi en jy raak aan die beker? Jy brand, want metaal is ’n goeie geleier van hitte en die warmte van die water word blitsvinnig oorgedra aan die beker. ’n Dik glasbeker vat effens langer om warm te word en as jy ’n spesiale beker gebruik wat geïsoleer is om koffie of tee warm te hou, bly al die hitte binne en die beker self word nie warm nie.

Toets dit self!

Is water of lug die beste geleier van hitte?

Benodigdhede:

  • Twee ballonne
  • ’n Kers
  • Vuurhoutjies of ’n aansteker
  • ’n Bietjie water

Hoe gemaak?

  1. Blaas die eerste ballon op en knoop dit toe.
  2. Steek die kers aan.
  3. Hou die opgeblaasde ballon naby aan die kers.
  4. Kyk wat gebeur!

Probeer weer:

  1. Tap nou ’n klein bietjie water in die tweede ballon (nie te veel nie – net so twee teelepels).
  2. Blaas dit op. Jy sal ’n klein bietjie harder moet blaas, want die ballon blaas moeiliker op as daar water in is. Knoop dit toe.
  3. Hou die ballon aan die knoop vas en bring dit nader aan die kers, sodat die vlam onder die water in die ballon is.
  4. Kyk wat gebeur!

Hoe werk dit?

Die eerste ballon het dadelik gebars. Dit is omdat die hitte van die kers die wand van die ballon dadelik laat smelt het – so vinnig dat die ballon onmiddellik bars. 
Maar die ballon met die water in bars nie. Dis omdat water ’n uitstekende geleier van hitte is. Die water “gryp” dadelik die kers se hitte weg van die wand van die ballon. Die water word dan warmer en kan selfs begin kook, maar die wand van die ballon word nie warm genoeg om te bars nie.

*Het jy geweet?

  • Jy kan water in ’n papierkoppie kook oor ’n bunsenbrander, omdat dieselfde beginsel sal keer dat die papierkoppie brand.
  • Maar oppas – sodra al die water afgekook het, sal die koppie wel vlam vat! Moet dit eerder nie by die huis probeer nie.

Kyk na hierdie video om te sien hoe dit werk:

Deur Elizabeth Wasserman

Wiskunde: Wat is die verskil tussen verhoudings en koers?

pizza verhoudings koers hoezit

Verhoudings vergelyk goed wat dieselfde is met mekaar.
Voorbeeld: As jy sê Petrus het 6 medaljes gewen in die laaste 10 resies waaraan hy deelgeneem het, vergelyk jy sy resies met mekaar.

Verhoudings kan beide as ’n breuk of teenoor mekaar geskryf word. 

wiskunde verhoudings koers hoezit

Koers vergelyk goed wat nie dieselfde is nie met mekaar.
Voorbeeld: As jy sê jou ma ry soggens teen 60 km/uur skool toe, vergelyk jy afstand en tyd. Dit wil sê teen daardie spoed sal jou ma 60km in 1 uur aflê.

Die woord “per” kom gereeld voor as jy met koers werk, want die antwoord word altyd saam met ’n eenheid of mate geskryf, soos:

  • tyd (per uur, per minuut, per sekond)
  • gewig (per ton, per kg, per gram)
  • mates (per kiloliter, per liter, per milliliter)
  • in dele van ’n geheel (per groep, per persoon)

Voorbeelde van verhoudings:

1. Met twee dinge wat vergelyk word:
Vraag: Mari maak ystee. Vir elke 2 koppies tee wat sy ingooi, moet sy ook 5 koppies water ingooi. Skryf dit as ’n verhouding.
Antwoord: 2:5 (Dit beteken vir elke 2 dele tee is daar 5 dele water.)

2. Met meer as twee dinge wat vergelyk word:
Vraag: Koos koop ’n sak vrugte. In die sak is daar 13 appels - 4 appels is groen, 7 appels is rooi en 2 appels is geel. Skryf sy appels in die verhouding geel:groen:rooi.
Antwoord: 2:4:7 (Let op na die volgorde waarin die verhouding geskryf word – dit moet dieselfde as in die vraag wees. Geen ander volgorde sal reg wees nie.)

3. Met ‘som van’ en ‘verskil tussen’: ‘Som van’ beteken plus (+), en ‘verskil tussen’ beteken minus (-).
Vraag: In ’n sak albasters is daar 5 rooi albasters, 3 blou albasters, 7 geel albasters, 2 pienk albasters en 9 swart albasters. Skryf verhoudings vir die volgende:

a) Rooi tot geel
Antwoord: 5:7
b) Blou tot pienk
Antwoord: 3:2
c) Die som van blou en pienk albasters tot swart.
Antwoord: (3+2):9 = 5:9
d) Die verskil tussen swart en geel tot rooi.
Antwoord: (9 – 7):5 = 2:

4. Met die verhouding in die vraag:
Vraag: Daar staan altesaam 12 motorfietse by ’n skou geparkeer in die verhouding wit(1):groen(2):swart(3). Hoeveel motorfietse van elke kleur is daar?
Antwoord: 1+2+3=6

Voorbeelde van koers:
Vraag: Johan se ma het 200km in 2 ure gery. Wat was haar spoed per uur?

Antwoord: (afstand ÷ aantal ure)
= 200 ÷ 2
= 100km per uur

Vraag: Jané koop ’n 5kg sak aartappels en dit kos haar R30,00. Wat is die prys per kg?
Antwoord: (prys ÷ gewig)
= R30,00 ÷ 5
= R6,00 per kg

Vraag: Twee liter koeldrank kos R15,00. Wat werk dit jou uit per liter?
Antwoord: (prys ÷ hoeveelheid)
= R15,00 ÷ 2
=R7,50 per liter

Vraag: Jou skool stuur 5 groepe na ’n sangkompetisie toe. Dit kos die skool R550,00 vir al die groepe om deel te neem. Wat is die prys per groep?
Antwoord: (totale bedrag ÷ hoeveelheid groepe)
= R550,00 ÷ 5
= R110,00 per groep

Die antwoorde op die werkkaart is hier.

deur Pieter Odendaal

Só loop goggas op water...

goggas loop hoezit water oppervlakspanning

’n Poeletjie water kan vol verrassings wees: Paddavisse, vreemde plante, naaldekokers en selfs goggas wat op die water loop!

Hoe kry sommige goggas dit reg om op water te loop? Die geheim is dat hul pote nie die oppervlakspanning van die water breek nie.

Kyk na hierdie oulike video: 

Wat is oppervlakspanning?
Watermolekules trek mekaar aan. Daar is dus ’n krag tussen elke watermolekule en sy bure, en hierdie kragte balanseer mekaar uit. Maar die molekules op die oppervlak van die water het nie bure aan elke kant nie. Dit veroorsaak ’n sterker aantrekkingskrag tussen hierdie buitenste molekules, wat dan soos ’n ‘skil’ oor die oppervlak van die water span.

skuifspelde hoezit oppervlakspanning

Eksperiment: Toets self hoe oppervlakspanning werk

Benodigdhede:

  • ’n Groot bak vol water
  • Toiletpapier
  • ’n Tandestokkie
  • ’n Paar skuifspelde (paper clips)
  • Skottelgoedseep

Hoe gemaak?

  1. Skeur ’n blokkie toiletpapier af en laat dit op die water dryf. Sit nou versigtig ’n skuifspeld daarop neer, sodat dit bo-op die blokkie toiletpapier dryf.
  2. Vat nou die tandestokkie en druk op die blokkie toiletpapier, rondom die skuifspeld, totdat dit sink.
  3. Siedaar! Nou dryf jou skuifspeld op sy eie.
  4. Gooi nou ’n druppel skottelgoedseep in die bak water en kyk wat gebeur.

Hoe werk dit?
Die blokkie toiletpapier dryf maklik op die water, omdat dit baie min weeg. Wanneer jy die skuifspeld daarop sit, ondersteun die toiletpapier die skuifspeld, byna soos ’n boot, en die hele spulletjie dryf. Wanneer jy die tandestokkie gebruik om die blokkie toiletpapier te laat sink, is die gewig van die skuifspeld reeds eweredig oor die oppervlak van die water versprei en dit breek dus nie die oppervlakspanning nie.

Wanneer jy die skottelgoedseep bygooi, sink die skuifspeld, want die seep breek die oppervlakspanning.

Hoekom breek seep die oppervlakspanning van water?
Die molekules in seep het twee punte met verkillende aantrekkingskragte: Een punt kan watermolekules aantrek, terwyl die ander punt weer meer van vetmolekules hou. Dis hoe skottelgoedseep vetterigheid op borde en glase afbreek, sodat dit mooi skoongewas kan word.

Maar wanneer seepmolekules in water oplos, beweeg dit tussen die watermolekules in en breek die aantrekkingskragte tussen die watermolekules. Op hierdie manier breek dit ook die oppervlakspanning. Skielik is daar geen kragte tussen die molekules op die oppervlak van die water nie en die skuifspeld sink!

Speel ’n bietjie
Gooi die seepwater uit jou bak en droog dit goed uit. Gooi vars water in. Kyk nou hoeveel skuifspelde jy op een slag kan laat dryf. Probeer ook om ander voorwerpe te laat dryf, soos ’n naald. Kyk hoeveel skottelgoedseep jy nodig het om alles te laat sink. Doop byvoorbeeld net die punt van ’n tandestokkie in die seep en sit dit in die water. Is dit genoeg?

*Slimkop vraag: Wat sal gebeur as seepwater in poeletjies beland waar watergoggas woon?

deur Elizabeth Wasserman
Foto: Shutterstock