Slimkop

Ongelooflike stories

Kan jy glo hierdie stories is regtig waar?
1
Bobbejaan werk op die spoorweg

“Jack die seinman” was ’n bobbejaan wat gedurende die 1800s op die spoorweë gewerk het.
Só het dit gebeur: James Wide het albei sy bene in ’n spoorwegongeluk verloor. Vier jaar later sien hy toe ’n Kaapse bobbejaan wat ’n span osse lei. Hy het Jack gekoop om hom op ’n trollie rond te sleep.
Jack was egter so slim dat hy ook geleer het hoe om die spoorwegseine op Uitenhage-stasie te hanteer. James het eers met handseine beduie watter hefbome Jack moet trek, maar later kon Jack dit foutloos doen, sonder instruksie.
Jack se storie is in 1890 in die wetenskaptydskrif Nature opgeteken.

2

Nog ’n vreemde bobbejaanstorie

’n Ander bobbejaan, toevallig ook genoem “Jackie”, van ’n plaas naby Pretoria, het in die Eerste Wêreldoorlog geveg en selfs ’n uniform gedra. Na sy been in April 1918 afgesit is, is hy tot korporaal bevorder. Hy het ook ’n medalje gekry.

Warrelwind-kind

In Julie 1992 het ’n warrelwind ’n 9-jarige Chinese meisie naby Sjanghai opgetel en weggewaai. Dink jy sy het dit oorleef? Kan jy glo – JA! Die wind het haar omtrent 3km verder bo in ’n boom neergesit. Sy het niks oorgekom nie.

 Nog vreemder

Iets soortgelyks het in Mei 1986 gebeur toe 13 kinders van Hami, in die Weste van China, weggewaai is. Hulle is 19km verder ongedeerd op ’n sandduin gekry.

Badtyd

Die Griekse wetenskaplike Archimedes het ’n belangrike ontdekking gemaak terwyl hy gebad het. Hy was so bly dat hy kaalbas straat toe gehardloop het. Sy uitroep “Eureka!” (Ek het dit gekry!) het in die strate van Sirakuse, Sicilië, weergalm.
Die ontdekking? As jy iets in water dompel, kan jy die volume daarvan meet – want dit verplaas dieselfde volume water.

paulmorphysittinglookingchessboard
Blinde skaak

Die skaakspeler Paul Morphy van New Orleans het as kind bekende skaakspelers geklop. Later, as volwassene, het hy agt skaakspelle geblinddoek gespeel!

Vang ’n ster!

In November 1954 het Ann Hodges van Sylacauga, in Alabama in die VSA, in haar sitkamer gelê en slaap. Skielik bars daar toe ’n stuk van ’n meteoriet, ook bekend as ’n verskietende ster, deur die dak. Dit het haar been getref. Die kanse dat so iets met ’n mens gebeur, is bitter skraal!

Deur Fanie Viljoen

Bronne

Related Posts