Ek voel

Leef vir vandag

Om te wens môre wil aanbreek of dat jy gister kan oordoen, is ’n mors van tyd. Leef vir vandag en kry só vrede!

vandag-vredeOns weet, ons weet, dié tyd van die jaar wil almal graag vakansie gaan hou – die son skyn dan te lekker en die strand roep! Maar om jou lewe te wil fast forward, beteken jy wens dit verby. En om in die verlede rond te dwaal, is net so erg, want die verlede kan nie verander word nie.
Jy kan wel fokus op wat nóú gebeur sodat jy teenwoordig is in jou eie lewe. Dis die maklikste en vinnigste manier om vrede in jou lewe te kry!

Dié tydlyn verduidelik dit mooi:

tydlyn-speel

Kry innerlike vrede in die hede
Nes die seisoene verander, verander jou emosies in goeie en slegte tye. Gelukkig hou slegte tye nie vir altyd aan nie, maar goeie tye gaan ook verby. Om vreedsaam te voel, moet jy leer hoe om goeie én slegte tye te herken en te hanteer.
Doen dit so:
• Hou op bekommer oor dit wat in die verlede gebeur het of om te wonder wat in die toekoms gaan gebeur. Doen wat jy nou moet doen om die beste van vandag te maak.
• Onthou dat stresvolle tye, soos ’n toetsreeks, ook verbygaan. Fokus daarop om jou bes te doen totdat dit verby is.
• Tydens etenstyd: Sit by ’n tafel, sonder ’n televisie of jou slimfoon voor jou, en geniet elke happie. Kyk na die verskillende kleure op jou bord, voel die verskillende teksture in jou mond en proe die kos! Gebruik al jou sintuie om die maaltyd te geniet.
• Wees geduldig wanneer jy vir iets of iemand moet wag. Span jou sintuie in en kyk wat jy alles om jou kan raaksien en hoor.
• Voor jy gaan slaap: Lê rustig in jou bed en raak bewus van jou asemhaling.
• Vind elke dag tyd om in die hede te leef – al is dit net vir ’n paar minute. Fokus op al die geluide wat jy kan hoor, op die gevoel van jou voetsole op die grond, en op jou asemhaling. Haal dan vyf keer diep asem – in deur jou neus vir vyf sekondes en uit deur jou mond vir vyf sekondes.

Wanneer jou vrede getoets word
Wanneer jy gereeld oefen om innerlike vrede te ervaar, sal dit vir jou al hoe makliker word om jouself te kalmeer en jou emosies te beheer. Maar ’n mens se vrede word byna elke dag getoets en dan hang dit van jóú af om jou emosies weer in toom te kry. Só kan jy dit hanteer as jy byvoorbeeld vies is:
• Druk die pause-knoppie voor jy besluit wat jy gaan doen of sê.
• Hou op fokus op jou gedagtes en raak bewus van jou sintuie en jou liggaam – fokus byvoorbeeld op hoe sterk jou voete op die grond voel.
• Kalmeer jouself deur op jou asemhaling te fokus.
• Sodra jou liggaam kalm voel, kan jy play druk en besluit hoe om te reageer op dit wat gebeur het. As jou liggaam kalm is, behoort jy enige situasie kalm te kan hanteer – met respek vir jouself en die ander persoon.

deur Angelique Biagioni
Illustrasie: Maja Sereda

Related Posts